Huis Herfsblaar - onder voogdyskap van die NG Gemeente Queenswood is gelee in die rustige en boomryke woongebied van Queenswood, Pretoria - binne bereik van verskeie winkelsentrums, hospitale en die Oor Instituut gehoorsentrum.
Vanaf 1983
Ontstaan
In Queenswood Pretoria, is ‘n visie van 38jaar gelede bewaarheid met die oprigting van Huis Herfsblaar Aftree-Oord. ‘n Oord wat ‘n tuiste vir bejaardes sou word waar uitnemende, omvattende en bekostigbare verblyf gelewer word.
Personeel is aangestel om verblyf te
verskaf asook om ‘n omvattende wye reeks dienste aan ouer persone te voorsien
wat betref hul fisiese en psigiese behoeftes.
Huis Herfsblaar streef na gehalte
sorg deur middel van algehele versorging wat ook ‘n Alzheimer-afdeling insluit.
Ons personeel, asook inwoners sorg
vir ‘n warm huislike atmosfeer, bou verhoudings en word pastoraal versorg.
Opbouende programme en aktiwiteite
word aangebied en die inwoners het toegang tot ‘n groot en pragtige tuin. Christelike beginsels
word gehandhaaf en daar word voortdurend op die behoeftes van die inwoners
gefokus.
Die personeel word deurentyd gemotiveer
om gehalte diens te lewer, terwyl ons poog om altyd eerlik, deursigtig en eties
op te tree.
Die Aktiewe Plus Lewe-benadering word wêreldwyd as die beste leefwyse vir ouerwordende persone voorgehou. Een van die belangrikste rolle van die Dienssentrum is dus om elke inwoner se lewe so volledig as moontlik te maak, daarom is die aktiwiteite en funksies wat deur die Dienssentrum aangebied word van kardinale belang.
Hierdie aktiwiteite moet inpas by 'n groot groep uiteenlopende inwoners se voorkeure en behoeftes, maar moet terselfdertyd siel, gees, verstand en liggaam stimuleer.
Dienste en aktiwiteite wat gelewer/bestuur word is:
Daaglikse etes
Vervoer
Gesellige byeenkomste met verskeidenheid sprekers en kunstenaars
Woel-en-Werskaf (handwerk)
Blommekomitee
Klassieke Musiek
Bybelstudie
Lekkerliedjies/Lofsang
Koor
Biblioteek
Brug, Kanasta, Rummicub, Snoeker, Skaak en Veerpyltjies
Trimgim
Inkleurterapie en kunsgroep
Saamstap
Ekstra funksies op Vrydae
Die klemverskuiwing met die Vrydae-aktiwiteite het die bedoeling om die ouer persoon te ontwikkel, en om sy emosionele-en geestelike welstand te bevorder met die skep van 'n instaatstellende en skeppende omgewing. Verskeie aktiwiteite is met hierdie doel voor oë na die NG Kerksaal en veral die tuin verskuif sodat meer inwoners asook personeel betrek kan word. Elke funksie is met groot entoesiasme en baie dankbaarheid deur die inwoners begroet. Uit hierdie Vrydag-aktiwiteite soos bv. lente/loslitdag, internasionale dag vir bejaardes, oggendtee vir al die 80 jariges, kersfunksie,vrugtefees, en pannekoek kafee spruit volgende voordele:
- Belange en behoeftes van die inwoners word aangespreek,
- Vind betekenis in die oudag
- Vind en behou sin in die lewe
- Besef dat jy nooit te oud is om te leer nie
- Gebruik jou lewenswyshede as bate
- Verhoudings word versterk
- Leer om te gee en te ontvang